Haar tuin was nog al die jare haar toevlug, vertel Hilda Marais van die plaas Skelmkloof buite Bedford in die Oos-Kaap. Haar man, Francois, is die vyfde geslag Marais’s op Skelmkloof – so gedoop vanweë die plaas se ligging in ’n versteekte kloof. Hul seun en kleinseun is die sesde en sewende geslag op die plaas.
Hilda en Francois ken albei die omgewing se blom- en dierelewe baie goed en staan bekend as baasvertellers van verhale uit hul kontrei. “Toe my seun as kleuter vier weke lank in die intensiewesorg-eenheid moes deurbring weens ernstige brandwonde, het dokters die amputasie van sy regterarm oorweeg.
Hy is regshandig. Ons het vreeslik baie gebid. In die maande daarna, terwyl ons hom toegewyd verpleeg en met rehabilitasie gehelp het, was my roos- en blomtuin my bidplek waar ek elke keer nuwe energie kon kry.