Minstens 49 van Suider-Afrika se endemiese voëlspesies en 19 van die 61 naas-endemiese voëlspesies is al in die Overstrand opgeteken. Dit beteken 52% van Suider-Afrika se endemiese voëlspesies kom in hierdie klein gebied voor.
Dié verskeidenheid, saam met die ander toeriste-aantreklikhede, maak van die Overstrand ’n gewilde eko-bestemming. Die Overstrand is bekend om behoue fynboshabitatte by Rooiels, die Harold Porter Botaniese Tuin op Bettysbaai, en die Fernkloof-natuurreservaat by Hermanus.
Voëlspesies wat uniek tot fynbosstreke is, soos die Kaapse suikervoël, oranjeborssuikerbekkie, rooiborsruigtesanger en die Kaapse berglyster, kan redelik maklik besigtig word. Ander gesogte spesies sluit in die grondspeg, die Kaapse en die langtoonkliplyster, en die grasvoël.