Die natuur speel nie altyd saam soos ’n mens wil hê dit moet nie, maar Perdeberg-kelder, geleë in die Paardeberg-streek waar die reënval maar skraps is, het weer met sy Dry Land Collection bewys dat moeilike omstandighede dikwels die beste druiwe voortbring.
Volgens Albertus Louw, keldermeester by Perdeberg, probeer hulle dinge so natuurlik moontlik doen. Daarom word selfs besproeiing tot die minimum beperk.
“Ons wil wyn skep wat getrou is aan hierdie omgewing en die wyn toelaat om uitdrukking te gee aan die plek waar dit vandaan kom.” Perdeberg-kelder is 80 jaar oud en het talle ouer wingerde en bosstokke. Die Dry Land Collection word gemaak van druiwe uit dié blokke wat oorleef het met slegs seisoenale reënval.