Op die Paarlse wynplaas Minié van Lois-Mari Rossouw en haar man, Willie, kan gaste nou oornag in ’n ou betonwyntenk wat in luukse gasteverblyf omskep is en alles geniet wat die plaaslewe bied.
Ons het al vyf jaar gelede die idee gehad, maar kon nie die projek bekostig nie. Mettertyd het ons ons droom laat vaar. Einde verlede jaar het ons die plan ondersoek om met eetslakke te begin boer.
Ons sou die tenke as broeikamers gebruik en het dit begin oopbreek. Ná ons al heelwat geld daaraan bestee het, het ons uitgevind die Paarl is te warm vir dié tipe boerdery. Mense wat al met eetslakke probeer boer het, het groot vrektes ervaar.