
- 2 kleinerige botterskorsies, elk in die lengte gehalveer en pitte uitgeskraap
- Olyfolie
- Sout en swartpeper na smaak
- Water
Bobotievulsel
- 30 ml olyfolie
- 1 groot ui, baie fyn gekap
- 3 knoffelhuisies, fyngekap
- 15 ml gerasperde vars gemmer
- 300 g beesmaalvleis
- 5 ml kerriepoeier
- 3 ml borrie
- 1 ml elk kaneel en komyn
- 2 snye witbrood, korsies afgesny
- 100 ml melk of room
- 30 ml appelkooskonfyt
- 30 ml bruinasyn
- 3 ekstragroot eiers
- 4 lourierblare (droog of vars)
Voorverhit die oond tot 190 °C.
Pak die botterskorsies met die pitholtes na bo in ’n gesmeerde oondbak.
Bedruip met olyfolie en geur met sout en peper.
Giet ’n bietjie water rondom die botterskorsies in die bak.
Bedek die bak met foelie en bak vir 20-30 minute of tot sag.
Maak die vulsel terwyl die botterskorsies bak: Verhit die olyfolie in ’n kastrol en braai die ui, knoffel en gemmer stadig oor lae hitte tot die ui sag is.
Voeg die maalvleis by en braai bruin. Voeg die kerriepoeier, borrie, kaneel en komyn by en braai vir 2-3 minute.
Week die brood in die melk of room tot dit goed deurweek is en druk met ’n vurk fyn.
Voeg die brood-en-melkpulp, appelkooskonfyt en asyn by en roer deur.
Laat prut vir ’n paar minute, geur na smaak met sout en peper en hou eenkant om effens af te koel tot benodig.
Wanneer die botterskorsie sag is, haal uit die oond en skep ’n bietjie van die gaar botterskorsie uit om die pitholtes groter te maak.
Druk die uitgeskepte botterskorsie fyn en roer dit by die bobotievulsel in.
Klits nou die eiers en roer dit ook by die vulsel in.
Skep die vulsel in die uitgeholde botterskorsies en druk ’n lourierblaar in die vulsel.
Bedruip weer liggies met olyfolie en bak oop vir 30 minute tot die vulsel ferm en die botterskorsie gerooster en deurgebak is.
Sit voor met blatjang en ’n groenslaai.
Lewer 4 groot porsies.