
’n Voedselverwerker skakel hierdie probleem uit en sorg vir ’n fluweelgladde vulsel. Moet die vulsel nie te lank verwerk nie – pols dit net tot dit glad en sonder klonte is.
Kors
100 g (halwe pakkie) Cream Crackers
100 g (halwe pakkie) sjokoladekoekies (soos Romany Creams )
1 ml fyn gemmer
100 g gesmelte botter
Vulsel
2 houers (230 g elk) roomkaas
2 eiers
Skeut suurlemoensap
250 ml room
1 plak (80 g) donkersjokolade , fyngekap
160 ml versiersuiker
30 ml koekmeel
30 ml goeie kakao
60 ml brandewyn
Kakao, om oor te sif
Kors: Krummel die Cream Crackers en sjokoladekoekies tot dit fyn is (jy kan ook ’n voedselverwerker gebruik). Voeg die gemmer en gesmelte botter by. Meng goed tot al die krummels klam is en druk die krummelmengsel op die boom en teen die kante van ’n 20 cm-losboomkoekpan vas. Verkoel tot benodig. Voorverhit die oond tot 160 °C.
Vulsel: Pols (of klits) die roomkaas tot glad en voeg die eiers en suurlemoensap by. Pols weer tot glad en skraap die kante van die voedselverwerker se bak skoon. Verhit die room en sjokolade saam oor lae hitte tot glad. Laat effens afkoel en voeg dit saam met die res van die vulselbestanddele by die roomkaasmengsel in die voedselverwerker.
Pols tot ’n gladde, romerige mengsel. Giet die vulsel in die voorbereide kors en bak vir sowat 50 minute tot die buiterande ferm, maar die binnekant steeds sag is. Skakel die oond af, maar moenie die oonddeur oopmaak nie. Laat die kaaskoek vir 15 minute so staan en maak die oonddeur dan op ’n skreef oop.
Laat die kaaskoek verder in die oond afkoel tot kamertemperatuur. Verkoel oornag in die yskas en haal die kaaskoek eers dan uit die pan. Sif ’n bietjie kakao oor. Sit voor teen kamertemperatuur saam met koffie.
Lewer 10-12 porsies.