
Sous (genoeg vir een groot snoek)
125 g botter
4-6 knoffelhuisies, baie fyn gekap
100 ml vars suurlemoensap
3 ml vars gemaalde swartpeper
100 ml fyn appelkooskonfyt
1 groot snoek, gevlek, kop en stert afgesny en die vleis goed droog gedruk
Stuk aluminiumfoelie
45 ml olyfolie
Smelt die botter in ’n kastrol en braai die knoffel daarin tot sag en geurig. Voeg die suurlemoensap en swartpeper by en verhit tot kookpunt. Voeg die appelkooskonfyt by en verhit, terwyl jy roer, tot ’n gladde, effe dik sous vorm. Hou die sous warm. Sit die snoek in ’n toeklaprooster. Vou ’n driehoekige stuk foelie (groot genoeg om net die snoek se pensgedeelte te bedek) en sit dit op die pens (die vleiskant).
Klap die rooster toe. Draai die vis met sy velkant na bo. Gebruik ’n kwas en verf die velkant met olyfolie. Draai die rooster om en verf die vleiskant met die sous. Maak seker jou kole is nie te warm nie en dat jy ’n hoë staander (of minstens twee bakstene) gebruik waarop die rooster kan rus. Sit die snoek eerste met sy velkant na onder neer. Braai vir ’n paar minute terwyl jy weer die vleiskant met bottersous smeer.
Draai om en braai die vleiskant tot dit net begin kleur kry. Draai om en smeer die vleiskant weer mildelik met bottersous voor jy die vis weer draai. Hou so aan vir ongeveer 12-17 minute (na gelang van jou kole en die grootte van die snoek) tot die snoek ferm voel en maklik vlok. Haal die foelie af voordat jy die vleiskant vir die laaste keer kole toe draai.
Sit die potjie met bottersous op die kole om kookpunt te bereik. Sodra die vis van die vuur af kom, smeer ’n dik laag van die sous oor. Laat staan vir 2 minute en haal die vis van die rooster af. Sit warm voor met gebakte heuningpatats en plaasbrood.
Heuningpatats: Sny ’n paar patats in hapgrootte blokkies, sit in ’n oondbak en besprinkel liggies met olyfolie. Meng deur met jou hande. Oondrooster teen 200 °C tot die patats gaar is.
Skud die pan (maak seker dat ál die patatstukke los is). Stip met blokkies botter en drup heuning rojaal oor. Oondrooster tot die patats goudbruin, gekaramelliseer en klewerig is. Sit warm voor met gebraaide snoek, plaasbrood en korrelkonfyt.