
Bestanddele
4 heel lamskenkels
Sout en vars gemaalde swartpeper
45 ml olie
2 vinkelbolle, grof gesny
250 ml goeie witwyn
250 ml wit muskadel
500 ml lamsvleisaftreksel
100 ml tamatiepasta
1 heel knoffelbol, middeldeur gesny
Ekstra kookwater, indien nodig
20 piekeluitjies, geskil
1 blik (410 g) kersietamaties in sap
Gekapte, vars roosmaryn
Metode
Geur die skenkels met sout en peper. Verhit die olie in ’n platboom-swartpot oor warm kole en braai die skenkels daarin tot egalig goudbruin. Voeg die vinkel by en braai vir ’n paar sekondes. Voeg die wyn by en laat dit vinnig opkook. Voeg dan die muskadel by en laat dit weer kookpunt bereik voor jy die aftreksel en tamatiepasta byvoeg.
Sit die twee halwe knoffelbolle in die sous, bedek die pot en laat dit oor matige kole prut vir sowat 1½ uur tot 2 uur of tot die skenkels sag is. Voeg die uitjies en blik kersietamaties by en prut vir nog 35- 45 minute tot die uitjies sag en die sous ryk en geurig is. Geur met sout en peper en sprinkel gekapte, vars roosmaryn oor. Sit voor op rys, koeskoes of aartappels.
Lewer 4 groot porsies.