
375 ml koekmeel
2 ml sout
15 ml bakpoeier
50 g botter
1 ekstragroot eier
125 ml melk
4 Granny Smith-appels, geskil, ontkern en gehalveer
60 ml strooisuiker
3 ml fyn kaneel
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n diep, middelslag-tertbak met botter.
Sif die koekmeel, sout en bakpoeier saam in ’n mengbak. Vryf die botter daarby in tot die mengsel soos growwe broodkrummels lyk.
Klits die eier en melk saam en voeg dit by die droë bestanddele. Meng tot ’n stywe beslag vorm. Smeer die beslag egalig in die tertbak.
Sny die appels in dun skyfies en pak dit styf teen mekaar op die beslag. Meng die strooisuiker en kaneel en sprinkel egalig oor die appels.
Bak vir 25-30 minute tot die poeding gaar is. Sit die poeding warm voor met skinkroom, ingedampte melk, dun vla of ’n brandewynsous (sien kombuiswenk hiernaas).
Lewer 8-10 porsies
KOMBUISWENK
Brandewynsous: Meng 125 ml bruinsuiker en 15 ml mielieblom saam met 250 ml koue water in ’n kastrol tot glad. Verhit tot kookpunt terwyl geroer word. Laat liggies prut vir ongeveer 3 minute en roer 15 ml botter, 45 ml brandewyn, ’n knippie sout en 60 ml room by. Hou aan roer tot die botter gesmelt het. Sit voor saam met nagereg.