
Net meer as ’n halwe pakkie (ongeveer 125 g) Mariekoekies
50 ml gesmelte botter
100 g donkersjokolade, fyngekap
250 ml pekanneute, fyngekap
180 ml klapper
1 blik (385 g) kondensmelk
Voorverhit die oond tot 170 °C en smeer ’n oondpan van 25 cm x 15 cm. Voer die oondpan met bakpapier uit en smeer weer goed. Verwerk die koekies tot fyn krummels en voeg die gesmelte botter by. Meng goed. Skep die krummelmengsel op die boom van die pan, maar moet dit nie styf vasdruk soos jy met ’n tertkors sou doen nie.
Druk dit net liggies met jou vingers om ’n egalige laag op die boom van die pan te vorm. Meng die sjokolade, neute en klapper goed saam en sprinkel dit in ’n egalige laag oor die krummels.
Gebruik ’n lepel om die kondensmelk oor alles te skep, sodat dit ook ’n egalige laag vorm en nie op party plekke dikker as op ander plekke is nie.
Bak vir 25 minute tot die kondensmelk goudbruin teen die kante van die pan is. Laat goed afkoel, keer uit die pan en sny in stafies. Lewer 15 stafies.