
2 bakkies (200 g elk) roomkaas
1 bakkie (230 g) geroomde maaskaas
310 ml strooisuiker
Sap van 1 suurlemoen
10 ml vanieljegeursel
5 ekstragroot eiers
250 ml elk room en suurroom
100 ml koekmeel
80 ml mielieblom
Versiersel
160 ml tuisgemaakte suurlemoensmeer (sien Kombuiswenk)
250 ml geklopte room
100 ml geroosterde klapperskaafsels
Voorverhit die oond tot 155 ºC en smeer ’n losboomveerklamppan van 22 cm goed. Bestuif die pan met meel en hou eenkant.
Klits die roomkaas glad. Voeg die maaskaas, strooisuiker en suurlemoensap by en klits weer tot glad. Voeg nou die vanieljegeursel, eiers, room en suurroom by en klits tot net gemeng. Sif die koekmeel en mielieblom oor en klits tot glad.
Gooi die mengsel in die voorbereide pan en bak vir 1 uur. Skakel die oond af en maak die oonddeur op ’n skrefie oop. Laat die kaaskoek in die oond afkoel tot kamertemperatuur. Verkoel verder tot benodig.
Versiersel: Vou lepels suurlemoensmeer by die geklopte room in en skep oor die kaaskoek. Sprinkel geroosterde klapperskaafsels oor om af te rond, indien verkies.
Lewer 1 groot kaaskoek (12-14 porsies).
KOMBUISWENK
Suurlemoensmeer: Verhit 60 g botter, die sap van 2 suurlemoene, 125 ml suiker en 2 geklitste eiers saam oor lae hitte terwyl jy aanhoudend klits. Verhit, terwyl jy klits, tot kookpunt en prut vir ’n paar minute. Laat afkoel, bedek en verkoel.