
Daar is min dinge wat by ’n lekker malvapoeding kom. Ek hou daarvan om dit ’n ekstra Suid-Afrikaanse skop te gee met ’n goeie skeut Amarula-likeur in die stroop.
Beslag
- 250 ml suiker
- 3 groot eiers
- 45 ml appelkooskonfyt
- 500 ml koekmeel
- 10 ml bakpoeier
- Knippie sout
- 5 ml koeksoda
- 500 ml melk
Stroop
- 125 g botter
- 500 ml suiker
- 250 ml room
- 125 ml volroommelk
- 125 ml Amarula-likeur
- Knippie sou
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n groot oondbak met botter of bespuit met kleefwerende kossproei. Klits die suiker en eiers saam tot liggeel en dik. (Die mengsel moet in ’n dik lint van die klitser afloop as jy dit oplig – dit duur ongeveer 10 minute.)
Klits die appelkooskonfyt by. Sif die meel, bakpoeier, sout en koeksoda oor en voeg die melk by. Meng liggies tot glad. Giet in die voorbereide oondbak en smeer gelyk. Bak vir ongeveer 45-60 minute tot die poeding goudbruin en deurgaar is.
Maak intussen die stroop:
Verhit die botter, suiker, room en melk stadig saam tot die suiker opgelos is. Verhit tot kookpunt en prut vir 5 minute. Verwyder van die hitte, voeg die Amarula-likeur en knippie sout dadelik by en roer deur.
Giet die stroop oor die poeding sodra dit uit die oond kom. (Die stroop sal baie lyk, maar alles sal intrek as die poeding ’n paar minute lank staan.) Laat staan vir minstens 15 minute. Sit voor met vla, geklopte room of roomys.
Lewer 10-12 porsies