In Kosbaar, Elmarie se eerste pragkookboek, is daar nostalgiese gunstelinge soos roosterkoek en melktert. Party kry ’n nuwe baadjie, soos malvapoeding met ’n pinotage-sous, gebakte patat met za’tar-speserye, en stadig geroosterde lamsblad met jogurtplatbrood.
Elmarie het in Bloemfontein grootgeword en van kleins af was kos “in haar bloed” en die kombuis haar “troon”. Reeds op 15 het sy haar eerste klas by ’n kookskool gehad.
Heelwat kookkursusse het gevolg en sy het verskeie draaie in restaurant- en hotelkombuise gemaak waar sy die fynere kunsies van kosbereiding aangeleer het. Vandag is sy ’n gerekende blogger, kosstilis en -fotograaf.