
12 snye brood
Botter of olyfolie
1 pakkie spek, brosgebraai
6 eiers
240 g cheddarkaas, gerasper
Blatjang
2-3 tamaties, gesny (jy het 2-3 skywe per braaibroodjie nodig)
1 ui, in ringe gesny
Sout en peper
Die spek moet brosgebraai wees. Die maklikste en lekkerste manier om dit te doen, is in ’n rooster op die kole. Pak die stukke spek versigtig op sodat hulle nie deur die gapings in die rooster val nie. Draai hulle net een keer om.
Jy kan spek oor warmer kole as braaibroodjies braai, wat beteken dat dit chronologies goed werk. Haal die spek van die vuur af wanneer dit reg is en kap rofweg in stukke.
Maak roereier in ’n pan of potjie op die vuur. Elkeen het sy eie styl. Ek gooi gewoonlik botter, olyfolie en al die eiers in die potjie voor ek die potjie op die vuur sit. Ek roer die eiers nie te entoesiasties nie, want ek hou van ’n bietjie wit en geel detail in my roereier. Sodra dit begin stol, meng jy die helfte van die gerasperde kaas by. Wanneer dit omtrent reg is, gaan jy dadelik aan met die volgende stap.
Bou die braaibroodjies: Botter of olie elke sny brood aan die een kant (dis die kant wat na buite sal kyk wanneer jy die braaibroodjie aanmekaar gesit het). Sit die helfte van die snye brood op hul botterkante neer, smeer blatjang op en verdeel die tamatie en ui eweredig tussen die snye. Maal sout en peper oor. Die bedrewe braaier sal dit alles doen terwyl hy die spek braai en die roereier maak.
Verdeel nou die roereier tussen die snye en strooi die res van die gerasperde kaas bo-oor. Laaste sit jy die gebraaide spek op. Bedek met die oorblywende snye brood met die botterkante na bo. Weereens, braaibroodjies is draaibroodjies, draai jou braaibroodjies dus gereeld om.
Gebruik ’n toeklaprooster en braai die broodjies oor matige hitte. Die rooster moet taamlik hoog bo die kole wees. Jy wil die kaas gesmelt en die res van die vulsel lekker warm te hê teen die tyd dat die buitekante goudbruin is. Jy spring weg met warm roereier in dié braaibroodjie, dus is jou kans op sukses goed.
Om te keer dat die braaibroodjies vassit, kan jy die rooster oop- en toemaak ná die eerste paar kere se omdraai.
Sodra die braaibroodjies reg is, sny jy elkeen in die helfte. Volgens my, sny ’n mens ’n braaibroodjie diagonaal en jy eet hom onmiddellik.
Lewer 6 braaibroodjies