
Amandel-en-roossponskoek
4 ekstragroot eiers, by kamertemperatuur
460 ml witsuiker
45 ml dik roosstroop
5 ml rooswater
2 ml pienk voedselkleursel
3-5 ml amandelgeursel
125 ml melk
125 ml water
100 ml olie
450 ml koekmeel
10 ml bakpoeier
Knippie sout
125 ml gemaalde amandels
Roosblaarversiersel
200 g sagte botter
500 ml gesifte versiersuiker
10 ml vanieljegeursel
30 ml dik roosstroop
125 ml vars donkerpienk of rooi roosblare, gewas, drooggedruk en fyngekap
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer twee koekpanne van 20 cm met olie of bespuit met kleefwerende kossproei. Voer die panne met bakpapier uit en smeer of bespuit weer. Klits die eiers goed en voeg die suiker bietjie vir bietjie by. Hou aan klits tot die mengsel dik, donsig en liggeel is. Voeg die roosstroop, rooswater, kleursel en amandelgeursel by en klits deur. Verhit die melk, water en olie in ’n klein kastrolletjie tot kookpunt.
Verwyder van die hitte. Sif die meel, bakpoeier en sout in ’n groot mengbak. Voeg die gemaalde amandels by en roer deur. Voeg die eiermengsel by en vou dit halfpad in. Voeg die warm melkmengsel by en vou verder in tot ’n donsige, gladde beslag. Verdeel die beslag eweredig tussen die twee panne en bak vir 25-30 minute tot deurgaar.
Laat die koeke vir 10 minute in die panne afkoel voor jy die kante versigtig losmaak. Keer uit op draadrakke om verder af te koel tot kamertemperatuur. Versiersel: Verroom die botter en versiersuiker baie goed saam tot lig en romerig.
Voeg die geursel, roosstroop en roosblare by en klop verder vir 2-3 minute tot die versiersel lig en goed gemeng is. Halveer elke koeklaag om 4 dunner lae te kry. Smeer ’n dun lagie versiersel op elke koeklaag en stapel op mekaar.
Smeer van die versiersel buite-om die koek (dit hou die sponskoek vir langer vars en klam) en gebruik orige versiersel op die boonste laag van die koek. Lewer 14-16 porsies.