
Jy kan die pekanneute weglaat as jy wil, of jy kan die sous met ’n bietjie koffie of brandewyn geur vir afwisseling.
Sous
60 ml kakao
125 ml bruinsuiker
310 ml kookwater
Beslag
45 ml botter
100 g donkersjokolade, gekap
125 ml melk
2 groot eiers
160 ml strooisuiker
250 ml bruismeel
45 ml kakao
1 x 100 g-pakkie pekanneute, grof gekap
Voorverhit die oond tot 180°C en smeer ’n middelslag-oondbak of ramekins met botter of spuit met kleefwerende kossproei.
Meng die kakao, bruinsuiker en kookwater vir die sous saam in ’n beker tot die suiker opgelos is. Hou eenkant. Smelt die botter, sjokolade en melk saam tot glad en laat effens afkoel.
Klits die eiers en strooisuiker saam. Voeg die meel en kakao by die eiermengsel en roer dan die gesmelte sjokolademengsel en pekanneute by. Skep in die oondbak en giet die stroop daaroor.
Bak vir ongeveer 30-40 minute of tot ferm. Laat effens afkoel en sit voor met room of roomys.
Lewer 8 porsies.