
Hy het baie gunstelinge as dit by kos kom en het beslis ’n suikertand. Niks hiervan is vreeslik opwindend of “anderste” soos hy dit noem nie, maar vir my ouers wat al amper 50 jaar op Phalaborwa woon, is hierdie soort kos lekker en altyd ’n wenner. Geen verrassings hier nie: Braaivleis met krummelpap en shebasous (tamatie-en-uiesmoor) en ietsie soets vir nagereg. Verkieslik ’n filet wat nog pienk is binne en nie heeltemal gaar soos my ma daarvan hou nie. Sy allergunsteling kom egter by nageregtyd.
My pa is ’n gemmerkoekie- en appeltertman – die soort wat meer soos koek is en wat jy dan met ’n soet sous met ingedampte melk deurweek. Maar as ek moet kies wat vir die langste tyd in sy lewe ’n gunsteling is, sal dit sponspoeding wees. Die resep en variasies daarvan het by my ouma Eunice (en waarskynlik haar ma) en my tannie Alice en later ook my ma gedraai. Dit is waarskynlik ’n standaardresep, maar vir my laat dié nagereg die woord “familietyd” die mooiste in ’n poedingbakkie pas.
2 eiers, geskei
30 ml elk mielieblom en vlapoeier
15 ml koekmeel
2 ml sout
30 ml strooisuiker
1 liter melk
5 ml vanieljegeursel
Kaneelsuiker om oor te strooi
Klop die eierwitte styf en hou eenkant. Sif al die droë bestanddele saam.
Klits die eiergele en ongeveer 250 ml van die melk saam en voeg dit by die droë bestanddele. Meng goed tot glad.
Verhit die res van die melk in ’n kastrol tot warm, maar nie kokend nie. Voeg die helfte van die warm melk by die eiergeelmengsel en meng goed. Giet alles terug in die kastrol en verhit tot kookpunt, terwyl jy aanhoudend roer. Prut, terwyl jy roer, tot verdik en gaar.
Verwyder van die hitte en vou die eierwitte en vanieljegeursel by die melkpap in. Skep ’n derde daarvan in ’n opdienbak en strooi kaneelsuiker na smaak oor (my ma het ’n glasbak wat al donkiejare in die huis gebruik word).
Skep weer ’n laag van die sponspoeding in en sprinkel nog ’n lagie kaneelsuiker oor, en herhaal dan met die laaste van die sponspoeding en nog ’n bietjie kaneelsuiker. Sit warm voor.
Lewer 6 porsies