
- 2 heel suurlemoene
- Ongeveer 200 ml vars suurlemoensap
- Duimgrootte stuk vars gemmer, in skyfies gesny
- 625 ml witsuiker
- 750 ml water
- Dun gesnyde, vars suurlemoen en vars kruisement, om te bedien
Sny die geel deel van die skil dun van die suurlemoene af met ’n baie skerp groentemes (maak seker jy skil nie van die wit van die skil af nie, want dit sal die stroop bitter maak). Sit die stukke dun, geel skil in ’n kastrol.
Druk die afgeskilde suurlemoene se sap uit en vul dit op met nog ongeveer 200 ml vars suurlemoensap tot jy 250 ml sap het. Gooi die sap by die skil in die kastrol en voeg die gemmer, suiker en water by.
Verhit, terwyl geroer word, tot die suiker opgelos is. Verhit tot kookpunt en laat prut vir ongeveer 6-8 minute. Laat afkoel, giet in ’n bottel, verseël en bêre in die yskas. Lewer ongeveer 1 liter stroop.