
Martie Lamprecht, bobaas-tuisbakker van Bloemfontein, se koeksisters is die lekkerste wat ek nog geproe het. Daarom het ons besluit om haar resep hier te gee pleks van enige van die tradisionele koeksisterresepte wat ons oor die jare in Landbouweekblad gepubliseer het.
2 kg suiker
1 liter water
2 ml sout
5 ml vanieljegeursel
5 ml suurlemoensap
5 ml kremetart
Deeg
500 ml koekmeel
20 ml bakpoeier
3 ml sout
2 ml kremerart
100 g botter, gesmelt
1 geklitste eier
200-250 ml aangesuurde melk
Stroop: Verhit die suiker, water en sout tot die suiker gesmelt is. Verhit tot kookpunt en kook vir 5 minute. Verwyder van die hitte en roer die vanieljegeursel, suurlemoensap en kremetart by. Verdeel die stroop in twee dele en laat afkoel tot kamertemperatuur voor jy die stroop oornag in die yskas laat staan tot yskoud.
Deeg: Sif die droë bestanddele saam. Meng die gesmelte botter, eier en melk saam. Voeg die bottermengsel by die droë bestanddele en meng goed tot ’n sagte, hanteerbare deeg vorm. Bedek die deeg met kleefplastiek en laat rus vir minstens 20 minute.
Rol uit of druk plat en sny in stroke om te vleg. Plaas die gevlegde koeksisters op ’n oppervlak wat met olie gesmeer is en bedek weer met kleefplastiek totdat dit gebak word. Bak ’n paar koeksisters op ’n slag in matig warm olie tot egalig goudbruin. Skep met ’n gaatjieslepel uit en dompel die koeksisters dadelik in die koue stroop.
Hou die koeksisters vir ’n paar sekondes in die stroop en skep dit dan uit in ’n vergiettes of sif wat op ’n bord staan sodat oortollige stroop daarin kan afdrup. Lewer ongeveer 5 dosyn koeksisters.