As jy by die Bali Trading-kompleks stilhou, moet jy weet jou reis gaan waarskynlik met ’n uur of twee onderbreek word. Dit het meer as 20 jaar gelede sy deure langs die N2-snelweg net buite Riversdal oopgemaak, maar mettertyd het slim toevoegings baie meer daarvan gemaak as net ’n winkel wat Balinese meubels, dekor en geskenke verkoop.
Eerstens is daar die Rooi Aalwyn-Padstal & Koffiepot, wat bekend is as die tuiste van “die moerse vetkoek” en heerlike omelette. Daar word beslis nie oordryf met die vetkoek se beskrywing nie.
Dit is net-net kleiner as ’n grootbord en kom met ’n verskeidenheid vulsels. Saam met ’n koppie sterk boeretroos sal dit jou laat terugverlang na jou ouma se kombuistafel. Ander geregte sluit in plaasontbyte, vars skons en roosterbroodjies.