
Vulsel
1 kg hoenderborsfilette (ongeveer 6 filette), sonder vel of been
Sout en varsgemaalde swartpeper
60 ml mielieblom
30 ml elk sojasous en sjerrie
45 ml elk botter en olyfolie
2 groot uie, gekap
3 knoffelhuisies, fyngekap
5 ml vars tiemieblaartjies, fyngekap
650 ml goeie hoenderaftreksel
2 aartappels, fyngerasper
Deeg
300 g blaardeeg
1 eier, geklits
Sny die hoenderborsies in blokkies, geur goed met sout en peper en voeg die mielieblom, sojasous en sjerrie by. Meng goed. Bedek en laat staan vir 30 minute. Verhit die botter en olie in ’n groot kastrol en braai die uie daarin tot sag. Voeg die knoffel en tiemie by en braai verder tot die knoffel gaar is. Voeg die hoenderblokkies by en braai bruin.
Voeg die aftreksel en gerasperde aartappel by en verhit tot kookpunt terwyl geroer word. Laat prut die vulsel vir ongeveer 10-15 minute, of tot die hoender en aartappel gaar en die sous verdik is. Geur na smaak. Laat die vulsel afkoel tot kamertemperatuur.
Voorverhit die oond tot 200 °C en skep die pasteivulsel in ’n geskikte oondbak (of bakkies). Rol die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak en bedek die bak (of bakkies) met die vulsel daarmee.
Sny ’n paar kruisies in die deeg (om stoom te laat ontsnap terwyl die pastei bak). Verf die deeg bo-op met geklitste eier. Bak vir 15 minute, verlaag die temperatuur tot 170 °C en bak vir nog 15 minute tot die deeg goudbruin en opgepof en die vulsel borrelend is.
Lewer 6 porsies.