
3 aartappels, geskil en in klein blokkies gesny
Ongeveer 700 g gaar of gerookte snoek
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
30 ml gekapte, vars pietersielie
2 eiers, liggies geklits
sap en fyngerasperde skil van ’n halwe suurlemoen
Mieliemeel om mee te bestuif
Olie vir braai kruiesous
2 knoffehuisies, fyn gekap
15 ml kappertjiesaad
60 ml gekapte, vars pietersielie
30 ml gekapte, vars kruisement
30 ml gekapte, vars dille
3 ml Dijon-mosterd
90 ml olyfolie
45 ml suurlemoensap of wit druiwe-asyn
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak Kook die aartappelblokkies in soutwater tot sag. Dreineer goed. Druk aartappels fyn (die fyn aartappels moet styf en droog wees, nie slap nie) en meng dit goed met die snoek in ’n mengbak.
Geur met sout en peper na smaak. Voeg die pietersielie en eiers by, geur met suurlemoensap en meng deur. Vorm sowat 12 viskoekies met die palm van jou hand of gebruik ’n koekiedrukker. Plaas die koekies op ’n skinkbord met ’n lagie mieliemeel.
Draai die koekies om en rol die kante ook in mieliemeel. Verkoel vir sowat 15 minute om hulle ferm te maak sodat dit nie breek tydens gaarmaak nie. Meng nou ál die bestanddele vir die kruiesous saam en hou eenkant. Verhit olie in ’n pan en braai die viskoekies, ’n paar op ’n slag, tot bruin aan die onderkante.
Draai dit met ’n eierspaan om en braai ook aan die ander kant tot goudbruin. Sit voor met suurlemoenwiggies en die kruiesous.
Lewer 12 viskoekies (ses porsies).