
Tot dusver is geen bakkies of hardebaard-4x4’s amptelik in Suid-Afrika deur vervaardigers bekend gestel nie, maar Audi het verlede week ses e-karre plaaslik bekend gestel, waarvan twee darem hoog genoeg bo die grond staan om op die inkoopsentrum of skool se sypaadjie te klim.
Geeneen van hulle gaan dus jou Land Cruiser, Prado of Patrol vervang nie, maar hulle baan die weg vir alles van elektriese bakkies tot stadsmotors wat op elektrisiteit loop. Die meeste motormaatskappye beoog om die vervaardiging van petrol- en dieselkarre stop te sit.
Die ses nuwe Audi’s behoort tot die Duitse maatskappy se e-tron-reeks. Hulle is volkome elektries en gebruik dus nie ’n druppel brandstof nie (tensy ’n brandstof-kragopwekker die elektrisiteit opwek).
Die e-tron-reeks is in drie bakvorms beskikbaar: Eerstens ’n sportnutsvoertuig genaamd e-tron wat soortgelyk aan ’n Toyota RAV4 is (maar groter). Tweedens is daar ’n soortgelyke sportnuts met ’n skuins agterkant en die naam e-tron Sportback. Derdens is ’n sportsedan – plat soos ’n pannekoek – wat op die Porsche Taycan gegrond is. Sy naam is e-tron GT.
Elk van die drie ontwerpe is in twee geure beskikbaar: a) vrek vinnig en b) soos ’n weerligstraal. Die heel snelste van die ses, die e-tron GT RS, het slegs 3,3 sekondes nodig om van 0 tot 100 km/h te versnel.
Die groot nadeel van ’n e-voertuig is dat hy ’n swaar battery met hom saamdra, en dit stel groot eise aan die vering. Op die kort toetsrit in Kaapstad – oor ’n swetterjoel spoedhobbels – het die e-tron Sportback en GT gewys dat hul vering daarvoor opgewasse is. Die bakwerk het ook besonder stewig gevoel en die loodswaar battery verswak nie die motors se padhouvermoë nie. Die batterye se hoë gewig stel probleme aan ingenieurs, maar die ligging in die vloer maak die swaartepunt laag, en is dus ook ’n seën.
Danksy die grafstil kajuit en die verbysterende wringkrag eie aan ’n elektriese motor, gee die e-trons meer bestuurplesier as hul petrol- en dieselgedrewe eweknieë. Maar die slang in dié karparadys is die koste van hierdie rygoed. Hier’s die spyskaart:
• e-tron 55 First Edition – R1 745 000
• e-tron 55 Advanced – R1 990 000
• e-tron 55 S Line – R2 045 000• e-tron 55 Sportback S Line – R2 115 000• e-tron S Sportback – R2 425 000• e-tron GT – R2 715 000
• e-tron GT RS – R3 300 000
Ná die prys-skok wil mense weet hoe ver so ’n kar kan ry voor jy hom weer aan ’n kragpunt moet koppel. Reikafstand is onderhewig aan faktore soos die bestuurder se rygewoontes, maar vir die e-trons is dit sowat 300 km tot 400 km. Hoe lank dit dan duur om die battery weer vol energie te kry, hang af van waar jy laai. By ’n openbare snellaaier duur dit gewoonlik 30-60 minute en met ’n tuislaaier (en driefasekrag) ongeveer vier uur. Dis nou as die battery leeg is. Eienaars van elektriese voertuie verkies dikwels om die kar tuis in te prop en “vol” te hou.
Hoewel die Audi’s nou nog peperduur is, sê ’n plaaslike ontwikkelaar van infrastruktuur dat minstens een bekostigbare e-kar vanjaar nog na Suid-Afrika kom. Wanneer e-bakkies begin aankom, kan veral boere en ondernemings wat hul eie krag met sonpanele opwek en nie lang afstande hoef te ry nie, daarby baat vind.
In die weke voordat hy die e-tron-reeks bekend gestel het, het Audi aangekondig dat hy met die samewerking van GridCars 70 nuwe openbare laaiers installeer. BMW en Mercedes-Benz installeer ook laaiers in vennootskap met GridCars en die meeste e-voertuie sal dié kragpunte kan gebruik.