
’n Hino 500-Series 1342 met die naam Two Bar het reeds meer as 2,3 miljoen kilometer afgelê en word steeds daagliks vir karweiwerk in Gauteng ingespan. Terloops, dít is ’n afstand gelyk aan 60 keer om die aarde.
Namlog, ’n logistieke maatskappy, het dié besondere vragmotor nuut in 2009 aangeskaf. Die enjinblok, ratkas en agteras (ewenaar) is steeds die oorspronlike items. Die silinderkop is in ’n stadium herbou terwyl die koppelaarplaat, aansitter en alternator vervang is.
Die vragmotor is vir die eerste vyf jaar gebruik vir karweiwerk tussen Durban en Johannesburg en dikwels is twee ritte per dag ingepas. Daarna is dit hoofsaaklik in Gauteng gebruik. Met ’n gemiddelde vrag van vyf ton op die laaibak was die gemiddelde dieselverbruik 22,5 l/100km.
Hou, bene, hou
Terwyl die vragmotor op die langer roetes gebruik is, was die diensintervalle 30 000 km en op die korter roetes is die vragmotor elke 20 000 km gediens. Hoewel Namlog se vragmotors nie aan spesifieke drywers toegeken word nie, handhaaf die maatskappy baie streng bestuurderstandaarde en word die drywers gereeld aan bestuurdersopleiding onderwerp.
Namlog vervang gewoonlik sy vragmotors wanneer ’n afstand van tussen 700 000 en 800 000 km afgelê is, maar Two Bar is nog heeltemal ekonomies diensbaar. Inteendeel, vir 2017 is selfs begroot vir ’n nuwe verflaag vir die kajuit…