Eens op ’n tyd was Evkom-kragtoevoer (let op die “v”) ’n waardevolle bate vir ’n plaas. Eskom het egter die pad byster geraak, maar die verbetering van sonpanele en herlaaibare batterye het dit geleidelik vir ’n boerdery makliker gemaak om self krag op te wek en op te berg.
Nou verander die energie-landskap so vinnig dat dit binnekort sal moontlik wees om krag aan Eskom te verkoop – om as’t ware met elektrisiteit te boer. As dié energie dus betroubaar en oorvloedig word, sal dit jou loon om bakkies en motors – waar moontlik – ook op elektrisiteit te laat loop. (Trekkers, stropers en langafstandvragmotors gaan egter nog vir baie jare op diesel loop.)
Die nuwe geslag elektriese voertuie (EV’s) ry heelwat verder per laaislag as die Nissan Leaf en BMW i3 wat Suid-Afrika as pioniers binnegekom het. Onder die nuwes tel die BMW iX3 M Sport (R1 290 000), ’n volkome elektriese weergawe van die bekende X3. Met ’n volgelaaide battery kan hy tot 460 km ry voor hy moet herlaai.