
Met die nuwe 300-reeks bemark Toyota ’n groter reeks luukse veldryvoertuie as ooit tevore. Kopers van die Land Cruiser 200 het hulle nie juis gesteur aan plakkers en bakwerkkentekens, maar die duurste Land Cruiser 300 is vol ontwerpkenmerke.
Die Land Cruiser 300 GR Sport is onmiddellik herkenbaar danksy die sierrooster, wat ontwerp is om hulde te bring aan die Land Cruiser 80 van die 1990’s. Maar wat is die waarde van hierdie duurste Land Cruiser?
Die GR Sport het ’n sterker veldryvermoë as ’n Land Cruiser VX. Met 20 duim-wiele en ’n reusesierrooster is die VX eerder ’n weeldewa as ’n geharde plaasvervanger van Land Cruiser 200.
Die GR Sport het ’n beter aanvalshoek en vetter tekkies. Kleiner wiele met groter bande is altyd ’n wenner wat ritgehalte op grondpad en veldryklouvermoë aanbetref. Waar Land Cruiser 300 VX op 20 duim-wiele loop, het die GR Sport kleiner 18 duim-wiele met frisser 265/65-bande wat baie meer afblaasruimte los vir wanneer jy in sand ry.
Wanneer hindernisse moeliker raak, wil Land Cruiser-bestuurders na die vastrapvermoë van ’n ewenaarslot kan gryp. Met die 300 ZX is daar slegs ’n beperkte glymiddel-ewenaar, maar die GR Sport het drie meganiese ewenaarslotte, soos ’n Land Cruiser 76-stasiewa.
Daarby het die Land Cruiser 300 GR Sport ook oor ’n slim vering stelsel. Toyota se ingenieurs is steeds nie ingenome met die betroubaarheid van lugvering nie, en die Land Cruiser 300-reeks kom klaar daarsonder.
Wat die GR Sport wel het, is E-KDSS. Hierdie hidrouliese veldrybystandstelsel kan die teenkantelstawe by elke wiel ontkoppel. Dit gee ’n GR Sport 30 mm meer vertikale wielbeweging as ’n Land Cruiser GX of ZX, wanneer daar stadig oor rotsroetes bestuur moet word.
In strawwe veldrytoestande verskaf die E-KDSS stelsel nie net ’n verbetering in klouvermoë nie, maar ook ’n reuseverbetering in ritgehalte.
Land Cruiser 200-eienaars kla nooit kla oor hul voertuie nie. Maar as jy laataand om die Kalahari-kampvuur op ’n verbeeldingsvlug met hulle gegaan het, was daar ’n gemompel oor “voorste ewenaarslotte, meer wielbeweging en ’n slimmer ratkas”.
Waar Land Cruiser se teenstanders lugvering en gevorderde elektronika gebruik om veldryvermoë te verskans, verkies Toyota die beproefde ontwerpbeginsel van ’n staalleerraamonderstel en berekende samespel tussen elektronies en meganiese bystandstelsels. Sonder om een bo die ander te bevoordeel.
Met ’n luukse binneruim, meer wielbeweging en daai 265/65/R18-bande bied die GR Sport ’n amper volmaakte luukse veldvoertuig.
Selfs die mees geharde Land Cruiser 200-aanhanger sal met ’n GR Sport beïndruk wees, veral die tiengangratkas se flinkheid en die wakkerder verrigting van daardie nuwe V6-enjins.
Met 305 kW is die 3,5 liter-V6-petrolenjin ’n uiters bekwame kragbron wanneer jy swaar vragmotors op die snelweg verbysteek. Dit het ook die belofte om te dien as ’n uitstekende voertuig om duine in die Kalahari of Namibië te verower.
Diegene wat meer reikafstand uit Land Cruiser 300 se 135 liter-brandstoftenk wil oes, sal die 3,3 liter-V6-turbodiesel se 700 Nm sleepkrag en langpadtoervermoë na wens vind.
Dit is ongetwyfeld die beste Toyota-veldryvoertuig nog, maar daar is een swakplek: beskikbaarheid. Vanweë die wêreldwye tekort aan mikroskyfies oorskry die vraag na die Land Cruiser 300 geheel en al die beskikbare aanbod. Belangstellendes kyk na ’n waglys wat tot in 2023 strek.