
Sedert die bekendstelling van die derde (en jongste) geslag Tucson-sportnutvoertuig in Suid-Afrika velede jaar, is meer as 7 500 eenhede van die hand gesit. Dit beteken Hyundai spog nou met ’n plaaslike markaandeel van 16,5% in dié baie mededingende sportnutsvoertuigsegment.
Die nuwe Tucson 1.6 TGDI Executive Sport word aangedryf deur ’n turbo-aangejaagde 1.6 liter-viersilinderpetrolenjin wat oor 150 kW-drywing en 295 Nm se wringkrag beskik. Mnr. Stanley Anderson, Hyundai Automotive SA se operasionele en verkoopsdirekteur, sê die besluit om ’n “sport”-weergawe plaaslik beskikbaar te stel, is nie deur intensiewe navorsing vooraf gegaan nie, maar veel eerder deur ’n “gevoel” dat die koperspubliek by ’n sportiewe weergawe van die Tucson aanklank sal vind.
“Die reeks se 1.6 liter turbo-petrolenjin se 150 kW-drywing is meer as voldoende om ook in ’n meer sportiewe model genoeg woema te gee. Ons weet reeds deur die Tucson se verkoopsyfers dat ons ’n gewilde kandidaat in dié marksegement het en die nuweling se prys is uiters mededingend,” reken Anderson.
Genoeg woema
Die lugskorte voor, agter en aan weerskante word uit Korea ingevoer. Die nuwe 19 duim-allooiwielvellings en laeprofielbuitebande is met die hulp van Tiger Wheel and Tyre eksklusief vir die Tucson Sport uitgesoek. Die nuwe uitlaatstelsel spog met nie minder nie as vier windmakerige chroomuitlaatpype agter - natuurlik met ’n eie sportiewe klank wat net by só ’n vuurwa tuishoort!
’n Sesgang-handratkas dra die enjindrywing na die voorwiele oor en ’n model met ’n outomatiese ratkas is glo in die pyplyn.
Die Tucson Sport se prys van R499 900 sluit Hyundai se waarborg van sewe jaar of 200 000 km in Daar is ook padbystand vir vyf jaar of 150 000 km en ’n diensplan van vyf jaar of 90 000 km. Die diensintervalle is 15 000 km.