Die Japannese vervaardiger se spogveldwa verhandel dikwels vir pryse wat ver bo die aanbevole bemarkingswaarde is. Dit is eenvoudig vraag wat aanbod ver oorskry.
Maar is daar enigiets wat ’n Toyota-aanhanger meer begeer as ’n Land Cruiser 300-stasiewa? Ja. ’n Land Cruiser 300-dubbelkajuit.
Waar ’n vervaardiger se verbeelding tekort skiet met ’n duidelike markgeleentheid, sal kundige ingenieurs altyd in die bres tree. En ’n dubbelkajuitweergawe van Land Cruiser se 300 is ’n duidelike voorbeeld hiervan.