Avontuurmotorfietse se gewildheid is een van weinig suksesverhale in die motorfietswêreld. Dié kategorie was jare lank BMW en KTM se domein, met Yamaha, Honda en Suzuki wat ook ’n mate van sukses behaal het danksy die aangrypende avonture van hul jaers in die Dakar-tydren.
Dit het daartoe gelei dat Moto Guzzi en Aprillia ook in hul geskiedenis gaan rondkrap het vir inspirasie om munt te slaan uit die avontuurgier. In 2010 het die Britse vervaardiger Triumph ook sy kleim afgesteek met die Tiger 800 XCx.
Hy was en is steeds ’n knap speler (hy’s in 2020 deur die 900 vervang), maar die groot geld lê in die verkoop van groot avontuurfietse. Dít is waarheen Triumph in 2012 met sy 1 200 cc Tiger Explorer gemik het.