Wanneer mnr. Dico Swart, wat naby Bredasdorp boer, van “die kar” praat, verwys hy na die dubbelkajuit-Hilux wat op sy werf staan. Vir ’n stadsmens beteken “kar” iets soos ’n Golf, Camry of RAV4. ’n Hilux is ’n bakkie, wat eintlik tot ’n ander kategorie behoort, byvoorbeeld handelsvoertuie.
Bakkies het egter só gevorderd, gerieflik en gewild geword dat die Suid-Afrikaanse Motorskrywersgilde hulle ook deesdae as karre insluit by die Motor van die Jaar-kompetisie.
Om vir dié kompetisie in aanmerking te kom, moes ’n nuwe model rofweg in die afgelope jaar op die mark gekom het, werklik nuut wees, of ingrypende veranderings ondergaan het. Die nuwe Nissan Navara (“Gebou vir gemak”, LWB, 17 Maart of Landbou.com) voldoen hieraan en het as finalis deurgedring.