Die motormaatskappy TSAM het ’n gesonde markaandeel van gemiddeld 30% gehad voordat sy produksie-aanleg in Durban oorstroom is in die verwoestende vloede in KwaZulu-Natal in April vanjaar.
Dit het TSAM onmiddellik op die agtervoet geplaas, met sy markaandeel wat in die maande Mei, Junie en Julie onderskeidelik na 17%, 18,1% en 16,3% gekrimp het. Ten spyte daarvan het Toyota die voorste posisie in verkope behou.
TSAM se Prospecton-aanleg vervaardig die motors Corolla Cross en Quest, asook die Hilux-, Hiace Ses’fikile- en Fortuner-voertuie. Daarby sit dit ’n verskeidenheid Hino-handelsvoertuie aanmekaar. Al die ander produksielyne het produksie hervat, met die uitsondering van Corolla Quest, wat eers ’n paar dae later begin het.