
Die veiling volg op Eduan se eerste veiling in 2020 toe die duurste bul teen R105 000 aan mnr. Frans Engelbrecht van die plaas Sonop, Vergeleë verkoop is. Dié bul is steeds die duurste van die ras wat op ’n veiling verkoop is.
Altesaam 100 strooitjies van die bulle Turbo en Eduan Pollux is teen ’n gemiddeld van R181,25 elk verkoop. Turbo was in 2020 die ras se finalis in SA Stamboek en Vleissentraal se Elite-groeitoetsklas.
Die bul Witbek Omega van mnr. Hans Bester en sy drie dogters van Vrede, wat die Naudés op die genootskap se nasionale veiling teen R90 000 gekoop het, word tans as een van die stoetvaars gebruik.
Altesaam 31 koeie is teen ’n gemiddeld van R20 612,90 verkoop en die 21 bulle teen ’n gemiddeld van R57 666,67.
Mnr. Jacques Pienaar, ’n Merinoteler van Colesberg, het die duurste miniatuurhings van die Eduanstoetery, Adonis, teen R19 000 gekoop. Die gemiddelde prys van die hingste was R4 222,22 en dié van die merries R7 700 elk.
Die veiling is deur Vleissentraal Port Elizabeth aangebied met mnr. André van Zyl as afslaer. – Johan Norval