
Die veiling se omset van meer as R4,4 miljoen is aansienlik hoër as die meer as R3,6 miljoen van 2021. Mnre. Johnny Forbes van Vredesig, Darling, en F.C. Cloete van Sanctury Dormers, Cradock, het die hoogste prys van R250 000 vir ’n Dormerram betaal. Forbes het ook die duurste Suffolkram (R100 000) gekoop. Mnr. Mich Turner van Wanstead-Dormers, Cedarville, het R100 000 vir ’n ander Dormerram opgedok.
Altesaam 66 Suffolk-ooie is teen gemiddeld R15 393 verkoop met ’n hoogste prys van R47 000. Suffolk-kudde-ooie het gemiddeld R5 818 behaal. Die gemiddelde prys van Suffolk-ramme was R16 087 en R9 571 vir die kudderamme.Dormer-ooie het gemiddeld R6 127 behaal, ooie met lammers gemiddeld R8 000 en kudde-ooie gemiddeld R2 591.
Die gemiddelde prys van die Dormerramme was R19 260 en R7 416 vir die kudderamme.
Die veiling is deur Vleissentraal Port Elizabeth aangebied en mnr. André van Zyl was die afslaer.