
Die koper van die duurste bul, JVZ 18-360, was mnre. Gielie en Rob Jacobsz van Bergville. Altesaam 57 Manso-bulle het gemiddeld R95 263 behaal. Die duurste rooi bul, JVZ 18-89, is vir R190 000 aan mnr. Conal Lucas van Zimbabwe verkoop. Die gemiddelde prys van die 14 rooi bulle wat van eienaar verwissel het, was R84 286. ’n Koei en kalf, JVZ 17-46 en JVZ 21-027, is vir R110 000 deur mnr. Lourens en Irma du Plessis van Louma-boerdery, Thabazimbi, opgeraap. Die gemiddelde prys vir die agt koeie op die veiling het R85 652 beloop.
Die duurste vers, JVZ 19-442, het R85 000 behaal. Die koper was ook Du Plessis. Altesaam 52 verse is vir gemiddeld R51 500 verkoop.
Mnr. Johan van der Nest was die afslaer. Die familie het die veiling self in hul veilingskompleks op die plaas aangebied. ’n Paar kopers het van Tanzanië gevlieg om die veiling by te woon. Hulle het drie bulle gekoop wat per vliegtuig na die land sal reis. Kroon Vee se gereelde kopers van Zimbabwe was ook daar.
“Wat wonderlik is, is dat my ou klante elke keer terugkom omdat hulle tevrede is met die Brahmane wat hulle koop. Ek is ook dankbaar dat elke teler wat ’n bul wou koop, een kon kry teen die prys wat vir hom bekostigbaar is. Bulle was vanaf R40 000 beskikbaar. Die gehalte is steeds so goed dat ek self elke bul op die veiling in my eie kudde sal gebruik. Dit en ons naverkopediens dra tot Kroon Vee se sukses by,” sê Jan senior.