
“Ons is tjok en blok vol bespreek, en ek hoor die verblyf op dorpe soos Klerksdorp, Potchefstroom, Orkney en Viljoenskroon is ook lekker vol,” vertel me. Hettienne von Abo, eienaar van die grootste gastehuis op Bothaville, Louvre-gastehuis, en ’n lid van die plaaslike sakekamer.
Sy sê hulle kry steeds navrae vir verblyf tydens Nampo. Nadat die plaaslike toerismebedryf hard deur die covid-19-pandemie getref is, staan sy verbaas dat hulle baie mense moet wegwys. “Ek is heeltemal uit die veld geslaan. Daar is groot besprekings wat ons na elders moet verwys. Ná twee jaar van stilte in die toerismebedryf, veral tydens Nampotyd, gons die dorp van bedrywigheid. Dis heerlik!”
Von Abo sê die groot vraag na verblyf vanjaar is ook ’n aanduiding van hoe die pandemie onder die toerismebedryf gemaai het. Talle gastehuise het nie die inperking oorleef nie. Verskeie mense wat gewoonlik hul huise of tuinwoonstelle vir verblyf tydens Nampo uitgehuur het, moes weens ekonomiese druk die woonstelle op langer termyn verhuur of na kleiner wonings trek, wat beteken hulle het nie meer ekstra verblyfopsies beskikbaar nie.
Talle uitstallings klaar opgeslaan
Mnr. Toit Wessels, assistent-bestuurder van bemarking by Graan SA en Nampo, sê die eerste buite-uitstallers het reeds verlede week hul stalletjies begin opslaan en sowat 40% van die stalletjies is byna klaar opgeslaan. “Daar is groot opgewondenheid hier en die uitstallers doen baie moeite.”
Wessels sê Nampo 2022 is vol bespreek met al 800 uitstalruimtes wat bespreek is. “Ons het vanjaar sowat 160 nuwe uitstallers, en dit sluit uitstallers van werktuie tot nuwe uitstallers in die vrouesale in.”
Nampo word vanjaar die eerste keer oor vyf dae aangebied en 20 000 mense kan die terrein per dag besoek.
Wessels sê ingevolge die covid-19-regulasies wat gister in die Staatskoerant afgekondig is, geld dieselfde regulasies vir groot byeenkomste en sal die status quo ten opsigte van die covid-19-regulasies wat Nampo ingevolge wetgewing moet toepas, steeds geld.