
Die visie van die Wagyu-beestelersgenootskap is om die Suid-Afrikaanse beesvleisbedryf te transformeer om hoogs winsgewend te wees met verbruikers wat ’n hoëgehalte- en gesonde eetervaring vereis. Daarom is dit nie verbasend nie dat die vraag na gesogte Wagyu-beesvleis bly toeneem. Dit is te sien in die slagsyfers wat maandeliks verhoog (sien grafiek). In 2021 is 1 300 ton Wagyu-vleis geproduseer waarvan 60% uitgevoer is.
Wagyu beoog om nog meer karkasse deur die loop van 2022 te produseer. Die Wagyu-genootskap is in 2014 met slegs 19 telers gestig. Dit het gegroei tot 144 stoettelers wat tans geregistreer is. Sedert sy begin het die genootskap groot spronge gemaak om homself as ’n belanghebbende in die bedryf te vestig. Dit sluit in die sertifiseringsprogram, Certified Wagyu Beef (CWB), met 156 lede regdeur die waardeketting.
In 2020 het die Wagyu-genootskap die tweede Wagyu-wêreldkongres virtueel aangebied. Op dié geleentheid is die Wagyu-wêreldraad saamgeroep waarvan Suid-Afrika die sekretariaat geword het. Die raad is ’n platform vir internasionale samewerking tussen die Wagyu-genootskappe van die onderskeie lande.
Hierdie inisiatief stel die Suid-Afrikaanse Wagyu-bedryf in staat om mededingend op die internasionale mark te wees en homself teen gevestigde internasionale standaarde te meet.
Goeie pryse en teelmateriaal
Op die onlangse Suid-Afrikaanse Wagyu-kongres en Elite- nasionale veiling, by die Afridome op Parys, was die hoogste prys vir bulle R150 000. Die hoogste prys vir verse was R120 000. Wagyu-topteelmateriaal is ook beskikbaar gestel. Om goeie teelmateriaal te verkry, is die vertrekpunt vir die bou van kommersiële kuddes.
As ’n primêre beesvleisproduserende ras is die Wagyu perfek vir kruisteling. Wagyu is bekend om sy hoë marmeringsvlakke, en dit is nodig om seker te maak dat die regte Wagyu-lyn in jou teelprogram gebruik word. Voordat jy ’n geregistreerde Wagyu-bul saam jou kommersiële koeie laat loop, moet jy weet waar jou karkasmark is. Dit is ook belangrik om jou mark se verwagte produk te verstaan.
’n Wagyu-kruising wat ’n laer marmeringtelling lewer, sal steeds die gehalte van die vleis wat geproduseer is, verbeter. Verbruikers soek verhoogte gehalte en is bereid om ’n bietjie ekstra te betaal vir ’n besonderse ervaring. VOORUITGANG Deur die geskiedenis heen het vooruitgang altyd gepaard gegaan met tegnologiese en wetenskaplike vordering.
Dit is ook waar vir die Wagyu. Die ideale Wagyu-os is ’n doeltreffende dier wat meer groei en vet neerlê met ’n vermindering van voerinname. ’n Goeie voerprogram stimuleer die ontwikkeling van marmering op ’n jong ouderdom, waarop gebou word in die voerkraal. In die voerkraal word osse gemiddeld vir ’n jaar en ’n half tot twee jaar gevoer voor hulle reg is om geslag te word.
Met ’n verlengde opbrengstydperk is doeltreffende omsetting van voer na groei en vetneerlegging ook belangrik. Dit is een van die redes waarom die genootskap begin konsentreer het op voeromsettingstoetse. Die winsgewendste produsente handhaaf die balans tussen genetiese vordering, akkurate seleksie en die regte voerprogramme.
Beste eetervaring
Beesvleisfynproewers is op soek na ’n uitmuntende eetervaring. Dit is waarvoor hulle in toue staan, soos gesien met Nampo in 2019 waar 4 500 Wagyu-burgers in vier dae verkoop is. Die Wagyu-genootskap sal weer vanjaar op Nampo wees. Kom maak gerus ’n draai om dié unieke ras te besigtig en geniet die Wagyu-burger wat weer te koop sal wees.
Me. Elandri de Bruyn is die bedryfshoof van die Suid-Afrikaanse Wagyu-genootskap.