
Dit is die derde keer dat dié gewilde fees op Bredasdorp aangebied word. Hierdie slag is elke staanplek op die terrein tjokvol gepak.
Die fees spog vanjaar met meer as 500 uitstallers wat onder meer die nuutste werktuie, trekkers, stropers en boereplanne ten toon stal.
Daar is ook indrukwekkende 4x4-demonstrasies wat besoekers – bakkieliefhebbers ofte nie – in hul spore stuit.
Nampo Kaap is die jaarlikse speelplek vir boere in die Wes-Kaap wat daarop gemik is om hulle te inspireer, hul kennis te verbreed en om hulle bloot te stel aan nuwe toerusting wat ’n aanwins vir ’n boerdery sal wees.
En dis alombekend: Nampo is beslis nie ’n fees nét vir die boer nie.
Pa, ma, ouma, oupa, kinders en kleinkinders. Daar is iets vir almal – selfs vellies en gekleurde kouse vir elke persoonlikheid . . .
Terwyl ou treffers soos “Come on Eileen” deur Dexy’s Midnight Runners oor die terrein se luidsprekers speel, sit poegaai feesgangers op die grasperk en lê weg aan varsgebakte roosterkoeke met tuisgemaakte konfyt, pannekoeke, aarbeie met room of gebraaide wors, krummelpap en tamatiesmoor.
“Dit herinner my aan my kinderdae toe my pa ons altyd na die dorp se Boertjiefees geneem het,” vertel die 82-jarige Gerda Swanepoel met ’n dankbare glimlag.
Gerda staan saam met ander feesgangers in ’n tent waar skape, miniatuurperde, donkies, spoggerige skouhoenders, alpakkas, Friesperde en verskillende skaap- en bokrasse ten toon gestel word.
Maar wees gewaarsku: Dit is moeilik om jou peuter uit dié tent te kry!
Vanjaar is daar egter geen beeste te sien op die fees nie weens die streng bek-en-klouseer-regulasies wat steeds van krag is oor die vervoer van vee.
Wanneer jy tot aan die einde van die terrein stap, dan ruik jy die soete geur van fynbos.
Die Elim-blommefees in een van die tente is vanjaar ’n groot trekpleister. Elim, ’n klein sendingdorp sowat 50 km van Bredasdorp, stal meer as 112 verskillende soorte fynbos uit. Die tentoonstellings is plek-plek so hoog soos die dak. Dit het Elim-inwoners twee dae gekos om die eens gewone tent in ’n fynboswonderwêreld te omskep.
“ ’n Kantoor-job was nog nooit vir my bedoel nie. Wanneer ek in die natuur is, is ek op my gelukkigste,” vertel Margaret Kies (66) terwyl haar hande oor haar gunsteling-fynbosblomme waai.
Margaret se kennis van fynbos is verstommend. Sy kan jou alles van enige plant in die Elim-streek vertel – selfs watter plant die regte doepa is vir ’n spesifieke kwaal.
Soggens staan bakkies en motors kort ná sonop reeds voor die terrein se hekke en besoekers wag geduldig om vanjaar se Nampo Kaap plat te loop.
Een van hierdie besoekers is Henk Prins, wat Woensdagoggend vroeg saam met sy 11-jarige seun, Kobus, vanaf Ceres gery het. Prins boer met onder meer vrugte, groentesaad en koeie.
Hy het vanjaar aan die Landbouweekblad-boereplankompetisie deelgeneem en het sy ontwerp van ’n onkruidmaler ingeskryf waarmee hy ’n tweede plek behaal het.
“My pa het altyd gekla oor die onkruid wat agterbly nadat ons gestroop het. Dit het my laat besluit om ’n ou 1950 John Deere-hamermeul wat in die skuur gestaan het, te omskep in ’n maler. Jy sit hom aan die stroper vas en hy maal die onkruid totdat dit heeltemal fyn opgebreek is op die grond.”
Toit Wessels, assistent-bestuurder van bemarking en Nampo by Graan SA, sê hulle is baie dankbaar oor die publiek se opkoms van die afgelope twee dae. Die hekke van die fees is oop tot Saterdagmiddag en Wessels glo hulle gaan vanjaar meer as 25 000 feesgangers verwelkom in die Overberg.
Nampo Kaap, wat die kleinboet is van die Nampo-oesdag op Bothaville, is kleiner omdat dit grotendeels net deur inwoners in die Wes-Kaap besoek word. Wessels sê hulle hou van hoe die fees tans lyk en beoog om dit op hierdie grootte te hou.
Die afgelope twee dae het die mense hierheen gestroom en die snikhete dae het duisende mense nie afgeskrik nie.
Nou – kort op die naweek se hakke – lyk dit belowend dat 2022 moontlik Nampo Kaap se suksesvolste jaar nóg gaan wees.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.