
Die landboumeesterplan wat onlangs onderteken is, skep ’n mandaat vir die private sektor om die agterstand met infrastruktuur-ontwikkeling in die landbou aan te pak. Dis ’n baie spesifieke en gedetailleerde plan wat die vennote wat dit onderteken het, verantwoordbaar aan mekaar hou, het prof. Ferdi Meyer, direkteur van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP), gesê. Hy was betrokke by die opstel van die plan.
Meyer was een van die gespreksgenote op ’n Nampo-paneelbespreking, Nasie in gesprek, wat deur Theo Vorster gelei is.
“Ten minste het ons ’n beginpunt, ’n gemeenskaplike oogmerk en prioriteite geïdentifiseer,” het Meyer gesê.
Die element van vennootskap is wat volgens Meyer dié plan onderskei van vorige ontwikkelingsplanne en selfs die jongste nasionale ontwikkelingsplan. “Dis ’n maatskaplike verdrag tussen die regering, arbeid en die bedryf. Die vennote het saamgestem oor die weg vorentoe en dit is wat my opgewonde maak.”
Nog ’n kenmerk is dat die plan opgestel is vanuit die oogmerk van die waardeketting, vanaf die plaashek tot kommersiële gebruik. “Ons praat oor die werklikheid van ’n benadering wat deur die mark gelei word.”
Dit beteken dat inklusief na groei gekyk word, na praktiese maniere om nuwe mense in die mark in te lei, meer swart boere deel van kommersiële landbouproduksie te maak en werkskepping in die landboubedryf aan te moedig.
“Daar word gekyk hoe ons dit volhoubaar kan doen en groei bewerkstellig. Dit vereis ’n markgerigte benadering, waar jy bepaal wat jy plaaslik kan uitrig, met verbruikers wat onder druk is, en jy moet kyk na maniere om internasionale markte oop te maak.”
Die plan takel probleme soos onvoldoende infrastruktuur-ontwikkeling en agterstande met die registrasie van nuwe produkte. “Al hierdie kwessies is deeglik gedebatteer en die feite is op die tafel. Maatskaplike vennote het daaroor saamgestem, iets wat vir my baie bemoedigend is.”
Die toepassing van die plan is nie sonder haakplekke nie, het Meyer toegegee, want dis ’n plan wat onderteken is, nie ’n wet nie. “Die vennootskap tussen die private sektor en die staat het beslis in dié plan na ’n hoër rat oorgeskakel en dit skep die grondslag vir die private sektor om sy dienste aan te bied om probleme aan te pak, vaardighede te ontwikkel en omvattende ondersteuningsprogramme vir boere te bied.”
Oor die feit dat een van die vennote, wat plaasarbeiders verteenwoordig, op die nipper besluit het om nie die plan te onderteken nie, is Meyer nie te bekommerd nie. “Al het hulle nie die finale plan onderteken nie, is daar ’n sogenoemde letter of commitment tot die proses wat deur al die vennote, ook arbeid, onderteken is. Dis tegniese kwessies waaroor arbeid en die kommersiële sektor nie saamstem nie, maar ons kan dit oorkom.”
In antwoord op ’n vraag uit die gehoor oor wat die rol van die kommersiële landbou is om die plan in werking te stel, het Meyer gesê die narratief rondom die plan is belangrik. “Dit moet nie net goed vir die kommersiële landbou wees nie, ons moet die voordele in konteks plaas en verduidelik hoe ons nuwe spelers op die reis kan neem. Ons moet regtig meer toegespits daarop wees.”
Daarom is dit so belangrik dat belanghebbendes moet besef dat die meesterplan goed is vir werkskepping in die landbou.
“Die afdwing van arbeidswette word reeds deur die internasionale markte aan wie ons lewer, genoodsaak. Ek sê nie daar is nie vrot appels nie, maar die statistieke wys die plaaslike landbou beweeg in die regte rigting en misbruik word uit die stelsel gehaal.”