
Die lewendehawe-ekspo, wat ook ’n jag- en buitelewekomponent bevat, sal steeds van 29 September tot 1 Oktober op Nampopark by Bothaville in die Vrystaat aangebied word, met die twee organiseerders wat “baie opgewonde is oor die eerste aanbieding van Nampo Alfa”.
Minder beeste as wat aanvanklik voor beplan is, sal egter deel van die ekspo wees weens die landswye verbod op die vervoer van beeste wat verlede week deur die departement van landbou, grondsake en landelike hervorming aangekondig is.
“As lewendehawe-ekspo is die klem op alle lewende hawe wat onder meer skape, bokke, varke en perde insluit, asook honde en pluimvee, wat in dié stadium nie deur die verbod geraak word nie.”
Die jag- en buitelewekomponent word ook nie deur die verbod geraak nie.
“Ons is baie opgewonde om die nuwe Nampo Alfa-ekspo aan te bied en daar gaan vir almal iets wees om na uit te sien. Daar is ’n groot verskeidenheid jag- en buitelewe-uitstallers,” sê dr. Dirk Strydom, hoof van bemarking, Nampo en navorsingskoördinering by Graan SA.
Hinterland het ’n skietbaan gebou vir praktiese demonstrasies op die skou, met kompetisies wat moontlik aangebied sal word. Daar is ook ’n 4x4-baan gebou waar besoekers die voertuie onder veldtoestande kan toetsbestuur. Nog ’n hoogtepunt is die nasionale veldwedren, met talle bekende jaers in aksie.
Protokol gereed
Volgens die huidige regulasies val Nampo Alfa buite die huidige verbodtydperk van 21 dae.
“Nietemin het die organiseerders besluit om beesgetalle so ver moontlik te beperk en slegs projekte te akkommodeer waar risiko’s doeltreffend bestuur kan word deur middel van protokolle met die samewerking van veeartse.”
Projekte met groter risiko’s en wat moeiliker bestuur kan word, word afgestel en aanlyn voortgesit.
“Daar kan dus nou meer nougeset gekonsentreer word op die toepassing van die protokolle op hierdie projekte. Dit kan ook dien as ’n platform om die doeltreffende toepassing van bio-sekerheidsprotokolle ten toon te stel.”
Volgens die organiseerders sal die kleinveeprogram soos beplan voortgaan. Dit sluit deelname van die meeste kleinveerasse in ’n verskeidenheid kleinveeprojekte in. Dieselfde geld die vark-, pluimvee- en perdeprogramme. Die nodige protokolle sal steeds gevolg word, in oorlegging met kundiges en veeartse.
Volgens die organiseerders sal die situasie herevalueer word indien verdere aankondigings gemaak word rakende die regulasies.
Nampo Kaap
Volgens Strydom sal Nampo Kaap, wat op Bredasdorppark in die Wes-Kaap aangebied word, se diereprogram ook voortgaan soos beplan.
“Graan SA hou die situasie rondom die bek-en-klouseeruitbreking en die verbod deeglik dop met die onderskeie diereskoue wat vir Nampo Kaap geskeduleer is. Ons is gereeld met die nodige owerhede in kontak om op hoogte van sake te bly.”
Nampo Kaap word van 14 tot 17 September aangebied, wat buite die 21-dae-tydperk van die verbod op die vervoer van beeste val.
BKB-ALE-skou afgelas
Die jaarlikse BKB-ALE-skou op Parys het weens die verbod in die slag gebly. Die skou sou van 5-11 September in die Afridome plaasvind.
Adv. DeWaal Nigrini, voorsitter van die reëlingskomitee, sê bek-en-klouseer het ’n tydelike oorwinning oor die skou gehad.
Die Brahman- en Simbra-beestelersgenootskappe sou hul nasionale kampioenskappe daar hou. Verskeie ander bees- en kleinveerasse sou ook hul diere geskou het.