
Entstowwe is van deurslaggewende belang vir die lewendehawe-bedryf omdat sekere siektes nie behandelbaar is as die dier eers siek is nie. Daarom is Design Biologix van Pretoria se werk van onskatbare waarde. Dié private entstofvervaardiger produseer ongeveer 40 miljoen dosisse entstof per jaar.
Design Biologix het ook baanbrekerwerk gedoen met die unieke Clostrivax B+ (reg.nr. G4484, Wet 36 van 1947). Dis die enigste geregistreerde multi-komponentformule wat beskerm teen al die belangrikste veterinêre klostridiale siektes by beeste, waaronder lamsiekte en miltsiekte.
Ander bekende produkte wat Design Biologix vervaardig, sluit in Bef-Tect (reg.nr. G4365) teen drie-dae-stywesiekte; Clostrivax B (reg.nr. G4483), ’n multiklostridiale reeks vir beeste; Clostrivax O (reg.nr. G4487) en EnterotectP (reg.nr. G4256), multi-klostridiale formule vir skape; Micromin B (reg.nr. G4382), Micromin O (reg.nr. G4384) en MicrominO+ (reg.nr. G4383), ’n inspuitbare mikromineraalreeks vir beeste en skape; Multisomni (G4357) teen beeslongontsteking; en Ovipast (G4356) teen skaaplongontsteking.
Ontwikkeling
Om nuwe ’n entstof te ontwikkel, is nie ’n vinnige of eenvoudige proses nie. Dit word stapsgewys aangepak. Eerstens word ’n navorsingsprojek begin in reaksie op aanvraag deur die mark. Sodra bevind word dat die ontwikkeling van ’n entstof haalbaar is, word ’n konsep uitgewerk.
Grootskaalse navorsing volg oor die organisme wat die siekte veroorsaak, die siekte in die teikendier, asook die optimale vervaardigingsproses en formulasie. Dit bepaal die produkprofiel.
In die ontwikkelingsfase word eksperimentele lotte vervaardig. Sodra die eksperimentele lotte aan die uiteengesette spesifikasies voldoen, word die finale entstof geformuleer.
Hierdie finale entstof word dan gebruik om verskeie faktore, byvoorbeeld veiligheid in teikendiere met betrekking tot die dosis, die roete van toediening, en die doeltreffendheid van die produk waar te neem.
Sodra die entstof aan alle vereistes voldoen, word ‘n omvattende produkdossier saamgestel en ingehandig vir evaluasie by die registrateur van Wet 36 van 1947 vir goedkeuring. Hierdie hele proses kan tot vyf jaar duur, waarna dossierevaluasie en registrasie by Suid-Afrikaanse owerhede nog vyf jaar kan duur.
Risikovermindering
Om die veiligheid van die eindproduk te verseker en siekteverliesrisiko te verminder, word internasionale regulasies, naamlik goeie vervaardigingspraktyke (GMP), gevolg. Risiko’s is nie noodwendig sterftes nie.
Dit kan ook ekonomies wees ten opsigte van diereprestasie, soos gemiddelde gewigstoename per dag, of immuniteitonderdrukking in kuddegesondheid. GMP dek die hele proses – van die beginkultuur van die bakterie of virus tot die gebruik van die eindproduk.
Dié regulasies het wel ’n finansiële impak op die entstof se prys vanweë hoër produksiekoste sodra GMP ter sprake is. Vir Design Biologix is GMP nie onderhandelbaar nie. Die onderneming pas dit noukeurig tydens die ontwikkeling van elke nuwe entstof toe.
Al Design Biologix se prosesse en aanlegte word ook gereeld volgens internasionale standaarde geoudit om te verseker daar word aan streng etiese en gehaltereëls voldoen.
Uit ’n ekonomiese oogpunt gesien, is die groot vraag: Is die vervaardigingsproses kostedoeltreffend sonder om die gehalte van die entstof te beïnvloed? Die koste van die eindproduk moet ook vir die eindverbruiker laer wees as die risiko om nié voorkomend te ent nie.
Die groot kwessie is om plaaslik ontwikkelde en vervaardigde entstowwe te bemark in ’n omgewing waar die meeste goedkoper ingevoer kan word.
Die voordeel van plaaslik vervaardigde entstowwe is egter dat dit ontwikkel is met plaaslike en soms endemiese stamme van siektes.
Design Biologix doen veral navorsing oor Afrika-dieresiektes. Die onderneming se reeks selfvervaardigde entstowwe is spesifiek vir die Suid-Afrikaanse mark bedoel, hoewel van sy vervaardigde produkte al die afgelope vyf jaar ook in lande van die Europese Unie versprei word.
Hoewel die maatskappy sy entstowwe self bemark en versprei, werk hy ook saam met ander groot name in dieregesondheid, soos Ceva Dieregesondheid en MSD Intervet, ten opsigte van bemarking en verspreiding.
Dr. Angela Buys is bedryfshoof van Design Biologix.