
In reaksie op mense wat kla oor die covid-19-regulasies vir Nampo, van ’n inentingsertifikaat of negatiewe covid-toets van nie ouer as 72 uur nie, het Graan SA al die feite oor die kwessie op sy webblad uitgespel. Die enigste manier om toegangsvereistes ingevolge huidige wetgewing te vermy is as binnenshuise besoekers by byeenkomste tot 1 000 beperk word en buitenshuis tot maksimum van 2 000.
Dr. Pieter Taljaard, uitvoerende hoof van Graan SA, sê Nampo kry sowat 20 000 besoekers per dag oor 40 ha met sowat 760 uitstallers en hul personeel op Nampo-park. “Die gemiddelde besoeker bestee meer as sewe uur daar en om besoekers te beperk tot 2 000 mense op ’n slag is bloot nie moontlik nie.”
Daar moet jaarliks vir ’n veiligheidsertifikaat op provinsiale vlak en nou ook op nasionale vlak by die polisie, asook by die verkeersdepartement op munisipale vlak aansoek gedoen word. Daar moes ook ’n covid-19-plan ingedien word en tydens die skou moet ’n polisie-generaal en nou ook ’n covid-19-beampte heeltyd teenwoordig wees.
Taljaard beklemtoon dit is nie Graan SA of Nampo se beleid nie, maar wel regeringsbeleid wat in die Staatskoerant afgekondig is. Dit was oop vir openbare kommentaar en Graan SA het kommentaar teen die beleid gelewer en versoek dat die reëls op buiteluggeleenthede afgeskaf word.
Hy sê as nie aan die regulasies voldoen word nie, gaan die oesdag nie aangebied kan word nie en dan vind niemand baat nie. “Ons laat slegs organisasies sonder winsoogmerk – hoofsaaklik uit die omgewing – toe om kos by Nampo te verkoop om kerke, skole en boereverenigings die geleentheid te gun om ’n inkomste te genereer.”
Die regulasies maak ook net voorsiening vir 50% van Nampo-park se kapasiteit en amptelike kapasiteitsertifikate moes ingedien word. Daarvolgens is die sale se kapsiteit 5 800 en die res van die terrein se kapasiteit sowat 15 000.
Taljaard sê hulle hoop dat die regulasies voor die oesdag op 16 Mei begin verslap of afgeskaf word. “Ons sal geen covid-19-toelatingsvereistes stel as dit nie deur wetgewing vereis word nie. Die winkelsentrums se regulasies is meer tegemoetkomend en val nie onder dieselfde wetgewing as byeenkomste nie, wat steeds ’n raaisel bly.”
Hy sê hulle wil daarop konsentreer om onder enige omstandighede en met die beperkinge wat aan die skou opgelê is, steeds ’n oesdag aan te bied wat vir uitstallers, besoekers en die landbougemeenskap ’n suksesvolle en opbouende ervaring sal wees.