
Die reusagtige X9 1100-stroper vang dadelik jou oog wanneer jy op die 54ste Nampo-oesdag by John Deere se standplaas instap, en van daar verkyk jy jou aan ’n trekker wat onderstebo gemonteer is.
“Ons wil die Nampo-oesdag op sy kop keer, maar ook die dienste wat ons aan boere bied,” sê mnr. Lucas Groenewald, John Deere se verkoopsbestuurder vir Suider-Afrika.
Die konsep vir die onderstebo trekker word sedert Oktober verlede jaar ontwikkel vir die bekendstelling van John Deere se PowerGard-produk. Die eienaar van ’n trekker kan vir tot ses maande nadat hy dit gekoop het, besluit of hy of sy die produk wil gebruik. Daar is ’n waarborg van vyf jaar of tot 5 000 uur op al die produkte wat John Deere bied.
Met die mediabekendstelling van die X9 1100-stroper het mnr. Jan Kühn, produkspesialis van John Deere, gesê dat dié reus 200 ton mielies per uur kan stroop en 100 ton sagtegrane per uur. Die dieseltenk is 1 250 liter groot.
Nog ’n nuutjie op die stroper is ’n stofsuier wat net voor die venster geïnstalleer is sodat dit in droë toestande die stof wat opgeskop word, kan insuig om die bestuurder se sig te verbeter.
Kühn sê ’n span van meer as 100 ingenieurs en ander spesialiste werk sedert 2016 aan die ontwerp van dié stroper. ’n Kleiner model, die X9 1000, is ook beskikbaar.
Onderdele aanlyn te koop
Me. Janalize van Buuren, direkteur vir naverkopediens vir Afrika, die Midde-Ooste, Indië en die Pasifiese gebied, het die media ook bekend gestel aan John Deere se eie webtuiste vir die aankoop van onderdele.
“Nog een van die eerstes wat ons ten opsigte van dienslewering bied, is dat boere nou hul werktuie se onderdele aanlyn kan aankoop; hetsy dit egte John Deere-onderdele is of die alternatiewe onderdele vir ouer modelle wat ons teen ’n jaar waarborg aan boere bied.”
Kommersiële produkte soos pette, fietse, klere en dies meer kan ook op www.parts.deere.africa gekoop word.
Van Buuren sê hulle moes die afgelope twee jaar weens die covid-19-inperking en die impak wat dit en talle ander wêreldgebeure op die hawens en internasionale voorraadstelsels gehad het, talle planne maak om toe te sien dat hulle voldoende voorraad het.
“Sowat 30 ton onderdele is onlangs afgelewer met die komende strooptyd in gedagte. Ons wil graag in boere se behoeftes voorsien ten spyte van moontlike vervoerprobleme.”
Volgens Van Buuren het hulle hul stelsels só aangepas dat hulle nou sowat 56% meer onderdele plaaslik beskikbaar het as voorheen. Tydens die hoogtepunt van die vervoerprobleme by die hawens en met vlugte het dit soms tot vier weke geduur om onderdele in die land te kry.