
Sowat 11 000 mense het op die eerste dag van die 2022 Nampo-oesdag deur die hekke beweeg. “Altesaam 40 vliegtuie en ses helikopters het op die vliegveld geland,” sê mnr. Toit Wessels, assistent-bestuurder van bemarking by Graan SA en Nampo.
Vanjaar is die eerste keer in die 54 jaar van Nampo dat dit oor vyf dae aangebied word. Altesaam 800 uitstallers neem vanjaar deel, met alle uitstalruimte wat volbespreek was.
Landbouweekblad besoek Nampo ook, en besoekers se opgewondenheid om mekaar ná die isolasie van die covid-19-inperkingstydperk te sien is tasbaar.
“Ons kry goeie terugvoer van die besoekers wat daarna uitgesien het om ná twee jaar weer Nampo te kan bywoon. Die uitstallers is ook tevrede met hul verkope en navrae vir die eerste dag,” sê Wessels.
Meer besoekers word vandag as gister verwag. “En ons is baie dankbaar om te kan sê dat kaartjies vir môre amper uitverkoop is.” Slegs 20 000 mense mag per dag op die terrein toegelaat word.
Nampo is vanjaar deur omstredenheid voorafgegaan. Graan SA het teenkanting beleef weens die toepassing van maatreëls ingevolge covid-19-regulasies oor inentings en toetse vir die virus.
Wessels sê hulle is baie dankbaar vir die steun wat hulle tot dusver vanjaar geniet het en sien daarna uit om diegene wat Nampo-park vandeesweek gaan besoek, te verwelkom. “Daar word reën vir Vrydag voorspel, maar die voorspelling het sedert die naweek begin verswak. Ons is egter toegerus vir ons besoekers om steeds te kom. Onthou jou sambreel.”
Die beste pad vir besoekers van Johannesburg of Pretoria af is om na Parys te ry en van daar op die R59 na Bothaville. Besoekers uit die rigting van Bloemfontein word aangeraai om op die N1 na Kroonstad te ry, waar hulle afdraai om met die R76 na Viljoenskroon en die R59 na Bothaville te ry.