
Net links van die kamera staan ’n ouerige man en vermaan die videograaf om tog nie “op haar knieë te gaan en handjie by te sit nie”, maar Michris verloor soos gewoonlik nie sy draad nie en verduidelik geduldig die werking van sy draadspantoestel, wat al op die voorblad van die gewilde Boereplanne-tydskrif gepryk het.
Sy voorraad draadtrekkers, waarmee heinings moeitevry herstel word en die gebruiker genoeg plek gee om draad te knoop, was al op die tweede dag van die 54-ste Nampo-oesdag opgeraap. “As ek geweet het 73 000 mense gaan opdaag, het ek meer gemaak, maar covid-19 het mens se somme deurmekaar kom krap.”
Michris het nie op die draad gesit toe die boikotdreigemente begin deurskemer het nie. Hy het immers op Volksblad se digitale voorblad beland toe hy bedaard gepleit het dat rede seëvier en Graan SA geen keuse gehad het as om inentingsertifikate of ’n negatiewe toets te vereis voor jy voet op die 40 ha groot terrein kon sit nie.
Hierdie man van min woorde en baie planne het ook die fees as ’n gesondmaakfees gedoop, en is wyd aangehaal hieroor. “Ja, ek het seker ’n klomp vyande gemaak, maar ek het ook ’n groot klomp vriende bygekry.”
Een van die betekenisse wat die HAT aan draadtrekker toedig, is immers ’n persoon wat in die geheim invloed uitoefen. “Man, ja, dit was nie eintlik my bedoeling toe ek aanvanklik my nek uitgesteek het nie. Ek is wyd en syd aangevat, en later het dit so erg geraak dat ek gevoel het al die voorbereiding, al my spaargeld wat ek in hierdie planne vir kleinboere gestort het, is verniet.”
Van die groot wegbly-aksie het min gekom. Op dag een het Michris al genoeg sake gedoen om sy stalletjie se huurgeld te dek, en buiten al die draadspantoestelle wat nuwe baas gekry het, is die aangepaste snylem vir veldsnyers ook soos soetkoek opgeraap.
Sy bestelboek toon nuwe lewe nadat die landbouminister, me. Thoko Didiza, ’n span van Graan SA se kleinboerontwikkelingspan by sy Backsaver-standplaas aangebring het. “Aanvanklik het dit gelyk of deure die een na die ander toeklap, en toe gebeur net mooi die teenoorgestelde. Hier het ’n klomp nuwe geleenthede oopgegaan. Dis nou al ’n paar dae na Nampo, en ek moet draf om by al die bestellings en admin by te bly.”
Niemand kan immers Michris se draad knip nie.