
Vir die eerste keer in die 54 jaar van Nampo se geskiedenis is ’n simulasie van ’n noodgeval wat met ’n helikopter-ambulans vervoer word, gister op die Nampo-oesdag aangebied.
Rocket Helicopter and Emergency Services (HEMS), wat sy nooddiens-produk Maandag bekend gestel het, het met behulp van ETG Logistics ’n noodgeval met ’n trekker en mediese oefen-pop gesimuleer. Mediese personeel is na die terrein ontbied, het die pasiënt behandel en gestabiliseer waarna die pasiënt met ’n draagbaar na die helikopter gedra is waarmee hy dan afgevoer sou word.
Mnr. Boeta Dippenaar, uitvoerende hoof van die Henly Air-groep wat Rocket HEMS besit, was die vlieënier tydens die vlug en het aan besoekers verduidelik dat hulle ’n nooddiens bied wat spesifiek daarop toegespits is om die afgeleë dele van Suid-Afrika te bedien. Lees hier meer daaroor.
Rocket HEMS is die amptelike ambulansdiens tydens die Nampo-oesdag.
Mnr. Toit Wessels, assistent-bestuurder van bemarking by Graan SA en Nampo, sê dié simulasie is beslis ’n nuutjie vir hulle. Die simulasie het die belangstelling van heelparty besoekers getrek.
Die kaartjies vir die derde dag van Nampo 2022 was uitverkoop. Die terrein se maksimum kapasiteit is sowat 20 000 besoekers per dag.
Wessels sê daar is nog kaartjies aanlyn en by die hekke beskikbaar vir vandag en Vrydag. Heelwat kaartjies is al vir dié twee dae verkoop.