
Ligte reën word veral van 11 tot 13 September voorspel. “Die beste neerslae behoort van 10 mm tot 15 mm te wees en dit behoort oor die suidelike dele van die Wynland-distrik, asook die Kaapse metropool voor te kom. Ligte sneeu is moontlik oor die hooggeleë gedeeltes van die Suidwes-Kaap, soos die Matroosberg. Dit kan ook verder noordooswaarts uitbrei,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Van den Berg sê vanweë die reën en baie koue toestande wat van ongeveer 11 September af oor die winterreënstreek voorspel word, is daar ’n baie groot kans dat sneeu kan voorkom vanaf 12 September oor die berge van die Suidwes-Kaap.
Die sneeu kan na verwagting teen 13 September na die bergagtige dele van die Oos-Kaap sowel as die suidelike, suidoostelike en oostelike Drakensberge en omliggende gebiede uitbrei.
Wat weerstoestande in die distrik Bredasdorp van 14 tot 17 September betref, word matige dagtemperature van sowat 20 °C voorspel, terwyl minimumtemperature van sowat 10 °C verwag kan word.
“Redelik bewolke toestande kan veral Woensdag en Donderdag voorkom. Verder gaan die wind redelik sterk waai met tye. Winderige toestande van 30-50 km/h vanuit die ooste kan Woensdag voorkom, waarna die wind Donderdag en Vrydag wes tot noordwes kan draai met windspoed van 20-40 km/h.”
Toegangskaartjies vir Nampo Kaap is aanlyn beskikbaar by www.ticketpros.co.za. Pryse is R80 vir volwassenes en R40 vir skoolgaande kinders. Voorskoolse kinders kom gratis in. Die ekspo duur van Woensdag 14 tot Vrydag 16 September van 08:00 tot 17:00 en op Saterdag 17 September van 08:00 tot 14:00.