
Die Rocket Helicopter and Emergency Services (HEMS) en Rocket Connect, ’n nooddiens wat spesifiek daarop toegespits is om die afgeleë dele van Suid-Afrika te bedien, is vandag op die Nampo-oesdag bekend gestel.
“Die ernstigheidsvlak van jou noodgeval sal bepaal of ’n helikopter of ’n ambulans ontbied word om jou by te staan,” sê mnr. Boeta Dippenaar, uitvoerende hoof van die Henly Air-groep. Henley Air besit Rocket HEMS en Rocket Connect, wat ’n netwerk van helikopters en ambulanse tot hul beskikking het. Hulle het toegang tot 35 helikopters, vlieëniers en nooddienswerkers wat tydens ’n noodgeval per lugvervoer uitgestuur kan word. “Ons het ook toegang tot ’n netwerk van ambulanse wat ontbied kan word.”
Dippenaar sê slegs 14% Suid-Afrikaners het toegang tot mediese fondse, en elke mediese fonds het sy eie klousules wat bepaal wanneer iemand vir lugbystand in aanmerking kom. Pasiënte moet tydens ’n noodgeval gereeld ook ure wag vir hul lugbystand-aansoek om deur ’n mediese fonds goedgekeur te word. Dippenaar sê diegene wat van hul diens gebruik maak, hoef nie te wag op goedkeuring van die mediese fondse nie.
Vul gaping
Gesondheid is elke mens se grootste bate, maar met mediese dienste wat veral op die platteland agteruitgaan of in sommige gevalle nie beskikbaar is nie, het Dippenaar-hulle besluit om ’n diens aan te bied wat dié gaping vul.
“Ons konsentreer spesifiek op boere en werkers. Plekke soos Douglas het nie meer toegang tot ’n ambulans op die dorp nie. Die mense daar moet deurjaag Kimberley toe. In die hele Noord-Kaap is daar slegs sowat vier ambulanse wat toegerus is om geventileerde pasiënte by te staan tydens byvoorbeeld ’n hartaanval.
"Rocket Connect bied nie net vinnig vervoeropsies nie, maar bring die hoësorgdiens na jou toe. Ons het hoogs opgeleide nooddienswerkers en vlieëniers, dus word jy reeds tydens jou reis of vlug behandel, en nie eers wanneer jy by die hospitaal aankom nie. Talle dokters het al aangedui hoe waardevol die mediese sorg is wat ’n pasiënt kry voor hy of sy die hospitaal bereik.”
Rocket HEMS besit 18 Bell 222UT en Bell 230UT-helikopters, en 11 is as lugambulanse toegerus. Dit verteenwoordig die tweede grootste lugambulans-vloot in die land. Sake word gedoen vanaf twee basisse, naamlik Johannesburg en Kimberley, en die betrokke helikopters het uit hierdie basisse die vermoë om twee derdes van Suid-Afrika te dek. “Ons het byvoorbeeld al in Johannesburg opgestyg, in Upington ’n pasiënt opgelaai en in Bloemfontein gaan aflaai. Dit is amper duisend seemyl. Dit is die vermoë wat die helikopters ons bied,” sê Dippenaar.
Tydens ’n noodgeval skakel ’n mens een nommer om met die inbelsentrum in kontak te kom, wat dan die hele proses bestuur om bystand te lewer. Rocket Connect is ’n toepassing wat mense kan gebruik. Deur slegs die groot rooi paniekknoppie op die toepassing te druk, word die inbelsentrum in kennis gestel om jou te skakel sodat jy bygestaan kan word. Dippenaar sê omdat opvangs op afgeleë plekke ’n probleem kan wees, is die toepassing só ontwerp dat ’n mens dit kan gebruik selfs al het jy net toegang tot Edge, en nie 3G- of 4G-sterkte internet nie.
Die koste van die diens is R375 p.m. vir vyf lede van ’n familie. Lees meer oor die diens by www.rockethems.co.za.