
Mnr. Willie van Heerden, bestuurder van Merino SA, vertel deelnemers aan die BKB Merino Classic is nie beperk tot stoettelers en lede van Merino SA nie – enige produsent wat met Merino’s boer, mag inskryf en deelneem.
Diere wat vir dié kompetisie ingeskryf is, word onderdak gehuisves in die nuwe BKB-veesentrum en beoordeling sal gelyktydig in drie ringe binne die gebou plaasvind. Daar sal voldoende sitplek wees en besoekers aan Nampo Kaap sal die geleentheid kry om die beste teelmateriaal van topprodusente bymekaar te sien.
Die skape neem volgens gewig in verskillende klasse deel: langwol, kortwol en ongeskeer; lammers, tweetand en viertand; manlik en vroulik.
Deelnemers kan ’n dier van enige gewig inskryf, aangesien die diere iewers geakkommodeer kan word. Daar word kampioene en reserwekampioene in elke klas aangewys en uiteindelik die grootkampioen-Merino’s asook spesiale klasse en spesiale kampioenskappe, soos vir die ooi met die beste wol en ander.
Die bouvorm en wol word vir verskeie eienskappe beoordeel. Die bouvorm is die belangrikste en tel 70% van die puntewaarde. Van Heerden sê daar word gekyk na die balans in die skaap se samestelling, funksionele doeltreffendheid en ander eienskappe. Daar word selfs so fyn gekyk soos of die skaap reg byt. Wol se puntewaarde op die telkaart weeg 30% en speel ’n sleutelrol, aangesien die Merino ’n dubbeldoelras is.
Toegangskaartjies vir Nampo Kaap is slegs aanlyn beskikbaar by www.ticketpros.co.za. Pryse is R80 vir volwassenes en R40 vir skoolgaande kinders. Voorskoolse kinders kom gratis in. Die ekspo duur van Woensdag 14 tot Vrydag 16 September van 08:00 tot 17:00 en Saterdag 17 September van 08:00 tot 14:00.