
“Ons hoop om dieselfde aantal besoekers vanjaar by Nampo Kaap te ontvang as wat ons in 2019 daar gesien het,” sê mnr. Toit Wessels, assistent-bestuurder van bemarking en Nampo by Graan SA.
Wessels sê al het Nampo Kaap nie die afgelope twee jaar plaasgevind nie, het hulle aanpassings op Bredasdorp-park gemaak om meer uitstallers te akkommodeer.
Luidens ’n verklaring sê mnr. Henk Aggenbach, voorsitter van die direksie van Bredasdorp-park, sê nie net is 72 bykomende uitstalruimtes en nog 4 ha vir besoekersparkering op die park ingeruim nie, die ou perdestalle is omskep in die BKB vee-afdeling waar die BKB Merino Classic en die Overberg Jeugskou sal plaasvind.
Die Water Wise-sentrum waar verskeie metodes van grondlose produksie soos hidroponika en akwaponika gedemonstreer word, het ook na ’n nuwe, groter tuiste op Bredasdorp-park verskuif. Dit is ’n werkende hidroponiese onderneming en opleidingsaanleg met die samewerking met die Universiteit van Stellenbosch.
Die Santam-ouditorium is ook verander in twee aparte lokale. Die Nasie in Gesprek-sessies sal op die boonste verdieping aangebied word en die onderste lokaal word aangewend vir ’n skoonheidsalon.
Die Engen 4x4-baan is in 2021 uitgebrei om ’n ekstreme 4x4-afdeling ook in te sluit. Besoekers sal hier onder die bekwame leiding van Terrain Tamers die nuutste 4x4-voertuie van verskillende fabrikate in aksie kan sien.
Besoekers aan Nampo Kaap vanjaar kan uitsien na die volgende:
• Die BKB Merino Classic nasionale kampioenskap.
• Nasie in Gesprek-besprekings van aktuele onderwerpe.
• Nedbank Flora-blommerangskikkings.
• Akkerbouproewe en demonstrasies.
• Die Elim-fynbosuitstalling.
• Nampo Kaap-skoonheidsalon.
• Overberg Streeksjeugskou.
• Toyota SA jongafslaerskompetisie.
• Omnia-boereplannekompetisie.
• Verskeie demonstrasies soos skaapskeer, wolverwerking, taksidermie en vele meer.
Toegangskaartjies vir Nampo Kaap kan nou aanlyn gekoop word by www.ticketpros.co.za. Pryse is R80 vir volwassenes en R40 vir skoolgaande kinders. Voorskoolse kinders kom gratis in. Die ekspo duur van Woensdag 14 tot Vrydag 17 September van 08:00 tot 17:00 en Saterdag 17 September van 08:00 tot 14:00.
Besoekers wat op soek is na verblyf, kan die Kaap Agulhas-toerismekantoor by 028 424 2584 of 082 896 2225 kontak of besoek www.overberg-info.co.za.
Besoek www.expo.org.za of kontak Chrystal van Wyk by 028 050 1385 of 072 905 5111 of stuur ’n e-pos aan admin@expo.org.za vir nog inligting oor Nampo Kaap 2022.