
Die opheffing van die nasionale ramptoestand – hoewel wonderlike nuus op papier – is in werklikheid ver van dit wat nodig is om die ekonomie weer aan die gang te kry.
Só meen mnr. Roelie van Reenen, uitvoerende hoof van die verskaffingsketting van die Beefmaster-groep, ’n toonaangewende spesialisprodusent wat beesvleis van goeie gehalte aan Suid-Afrika en ander markte lewer.
Hy sê dringende optrede is nodig om werkskepping te stimuleer. “Die ramptoestand en covid-19-maatreëls het ons bedryf se vermoë om vooruit te beweeg, beperk. Die tyd het nou aangebreek om drastiese stappe te doen.”
Van Reenen sê die bedryf het sy hoop daarop gevestig dat regulasies verslap sal word tot wat dit voor die afkondiging van die ramptoestand was. Met die regering wat egter beoog om covid-19-maatreëls permanent deel van die gesondheidsregulasies te maak, meen baie mense dat die beëindiging van die ramptoestand bloot ’n strategiese skuif was.
“In ’n klimaat van stygende brandstof- en voedselpryse, hoër inflasie en stygende rentekoerse, het ons meer knoppies nodig wat ons kan druk om die ekonomie aan die gang te kry.” Hy versoek die regering om meer te doen om ’n bemagtigende omgewing vir verbruikers, boere en besighede in die beesvleis- en landboubedryf te skep. “Dit is baie moeilik om dit tans te bereik.”
In die tyd voor die covid-19-pandemie was landbouskoue en -geleenthede ’n uitstekende inkomsteskepper en belangrike platform om die bedryf te bevorder – iets wat in die grendeltyd weggeval het.
“Betrokkenes in die landbou het op geleenthede soos Nampo, die grootste landbouskou in die Suidelike Halfrond, bymekaar gekom om nuwe saketransaksies te sluit en bestaande verhoudings te versterk. Geld is bestee en in die ekonomie teruggepomp. Sonder inperkings het Nampo die potensiaal om die ekonomie en die landboubedryf te stimuleer.